Vandag het ek nie rus nie.
Ek dink ek was nog altyd baie konserwatief in my denke en nie eintlik iemand wat risiko's geneem het nie. En nou het daar iets oor my pad gekom wat ek nogal graag sou wou doen, maar sien ek kans om die risiko te neem?
'n Klein gevestigde raambesigheid is te koop. Dit is bedryf vanaf die huis deur 'n vrou met 2 kindertjies. Om die besigheid oor te neem, dit wil se die apparaat/masjienerie, kos R 55 000-00. Dan moet ons een motorhuis omskep word - dit wil se 'n plafon moet ingesit word, die motorhuisdeur moet vervang word, die kamer moet dan geverf en netjies gemaak word, ens. Dit sal ook ongeveer R 20 000-00 na R 25 000-00 kos. Daarna is daar nog ongeveer R 10 000-00 nodig om voorraad aan te koop. Dit bring die totaal te staan op ongeveer R 90 000-00.
Nou staan die saak so : ek het nie die kontant nie, en ek sien ook nie kans om geld te leen nie. Ons het so lank afbetaal aan studielenings en nou betaal ons af aan ons huis en motor. Ek wil ook nie op die huisverband leen nie - ons skuld nog ongeveer R 117 000-00 en ek sou graag dat ons dit klaar afbetaal en dan bietjie die huis opknap.
Ek wil baie graag van die huis af werk sodat ek smiddae by die huis vir Lize is. En Pa is 94 jaar oud en woon ook by ons. Dan is hy ook nie alleen by die huis deur die dag nie.
Nou wat staan my te doen???
Ek glo dat God voorsien en weet wat reg en goed is vir elkeen van sy kinders. Maar ek glo ook dat Hy aan ons 'n goeie en nugtere en gesonde verstand gegee het om besluite te neem. Nou wat is Sy Wil met my? - "Here, sal U my die wysheid en insig gee om die regte besluit te neem. Daar is eintlik net een uitweg, stap weg . Maar ek wil dit graag doen, en ek glo ek kan 'n sukses daarvan maak. En God kan voorsien! Here, laat my berus in wat ook al my paadjie moet wees".
No comments:
Post a Comment